Jan is ongeveer 1702 gedoop; verdere besonderhede oor sy doop is onbekend aangesien die Paarl se doopregisters vir die tydperk 702 tot 1714 onvolledig is.
Hy word eers na sy huwelik en die doop van sy oudste drie kinders op 29 September 1734 as lidmaat van die Paarl se gemeente aangeneem.
Hy bly saam met sy ongetroude broers en susters by sy ma op die plaas totdat hy 5 Desember 1728 toe hy 26 jaar oud was, in die Paarl met Anna Marais, die weduwee van Gabriel Rossouw trou. So begin hy sy huwelikslewe met drie stiefkinders; twee seuns en 'n dogter tussen die ouderdomme van 2 en 4 jaar.Sy stiefdogter Anna Rossouw trou in 1744 met sy jonger broer Abraham (b7) terwyl sy stiefseun Gabriel Rossouw in 1747 met sy suster Francina (b5) se dogter Elisabeth le Roux trou en na haar dood hertrou Rossouw in 1748 met Jan se suster Elisabeth (b4) se dogter Maria Elisabeth Malherbe.
Uit die huwelik tussen Jan Celliers en Anna Marais word agt kinders gebore, drie seuns en vyf dogters waarvan een dogter Elisabeth (c2) en een seun Daniel (c7) beide op ongeveer twee-jarige ouderdom oorlede is. A1 die kinders is in die Paarl gedoop.
Anna Marais se eerste man het die plaas Druiwevallei in die distrik Agter Groenberg naby Wellington besit waar hy met 30 beeste en 50 skape geboer en ook koring gesaai het.
Met haar huwelik met Jan Celliers word die plaas van 30 morg Jan se eiendom. Hy gaan aanvanklik voort met die boerdery wat Gabriel Rossouw begin het en saai ook rog en gars. In 1735 plant hy 5,000 wingerdstokke aan en in die daaropvolgende jare produseer hy jaarliks tot 20 leers (1 1,547 liter) wyn.
Op 27 September 1743 word 'n addisionele stuk grond van 36morg 571 vk roede aan Druiwevallei toegeken.
Anna Marais erf in 1744 die plaas 63 Kykuit in Daljosafat (55 morg 415 vk roede)van 'n ongetroude neef, Charles Marais, wat ook Jan se eiendom word. Die getal wingerdstokke wat hy besit vermeerder na hierdie erflating van 5,000 tot 20,000.
Klik hier vir foto's van die huis op De Kykuit. Daar word steeds op die plaas wyn verbou.
Jan Cellier bly die eienaar van albei die plase tot en met sy dood ongeveer 1755.
Net voor sy dood besit hy, benewens die wingerdstokke, 12 perde, 30 beeste, 300 skape asook 11 slawe en 1 slavin.
Kort na haar man se dood verkoop Anna die plaas Druiwevallei aan Petrus Louw, die toekomstige skoonpa van twee van haar kleinseuns, en boer tot en met haar dood op 11 Januarie 1765 op Kykuit. Sy staak egter die aanplanting van gesaaides in 1757.
Na haar dood erf haar oudste Celliers seun, Jan (cl) die plaas Kykuit teen 'n bedrag van 6,000 gulden Indiese valuta en na sy dood, sowat 'n jaar later, word dit die eiendom van haar enigste oorlewende seun Josua Care1 Cellier. (Uittreksel uit Hugenote Bulletin 36 van 1999 : Die B-geslag van die Cellier-familie, deur Marianna Olivier)