Cilliers Family Web Site
     

Die kinders van Josue Cellier en Elizabeth Couvret - die 2de geslag in Suid-Afrika

 
Jan
Aug 24 2008 03:57

bl : Josue is kort na sy ouers se aankoms in Suid-Afrika op 2 Januarie 1701 in die Paarl gedoop. Hy het tot op 42-jarige ouderdom saam met sy twee ongetroude broers, Abraham (b7) en Pieter (b8), by sy ma, Elizabeth, op die familieplaas, Orleans, geblyen ná haar dood, in ongeveer 1743, het hy na die Wellington omgewing verhuis,  waar hy by sy suster Elizabeth (b4) en haar gesin ingewoon het. Op 19 April 1770 is hy as vrygesel op 69-jarige leeftyd oorlede. Volgens sy opgaafrolle van 1723 tot 1769 het hy tydens sy leeftyd nie veel meer as 'n perd, 'n snaphaan, 'n pistool en 'n swaard besit nie.

 

As oudste seun wat juis op die plaas gewoon het, sou ʼn mens verwag het dat hy dit sou erf, maar sy jongste broer Pieter (b8), het Orleansgeërf, terwyl sy broer, Abraham (b7), die meeste van die vee geërf het. 'n Mens kan gevolglik hieruit maar net spekuleer dat Josue moontlik verstandelik gestremd was.

 

b2 : Jan is ongeveer 1702 gedoop. Nadere beson-derhede oor sy doop is nie bekend nie, aangesien die Paarl se doopregisters vir die tydperk 1702 tot 1714 onvolledig is. Hy is eers ná sy huwelik en die doop van sy oudste drie kinders op 29 September 1734, as lidmaat van die Paarl-gemeente aan-geneem. Hy het saam met sy ongetroude broers en susters by sy ma op die plaas gebly totdat hy op 5 Desember 1728 op 26-jarige ouderdom in die Paarl met Anna Marais, die weduwee van Gabriël Rossouw, getroud is. Anna het drie kinders van Gabriël gehad en Jan het dus   sy huwelikslewe met drie stiefkinders - twee seuns en 'n dogter, tussen die ouderdomme van 2 jaar en 4 jaar - begin.

 

Sy stiefdogter, Anna Rossouw, het in 1744 met sy jonger broer, Abraham (b7), getrou, terwyl sy stiefseun, Gabriel Rossouw, in 1747 met sy suster Francina (b5), se dogter, Elisabeth le Roux, getroud is. Ná haar dood is Rossouw in 1748 met Jan se suster, Elisabeth (b4) se dogter, Maria Elisabeth Malherbe getroud.

 

Uit die huwelik tussen Jan Celliers en Anna Marais is agt kinders gebore - drie seuns en vyf dogters – gebore, waarvan een dogter, Elisabeth (c2), en een seun Daniel (c7), op sowat twee-jarige ouderdom oorlede is. Al die kinders is in die Paarl gedoop.

 

Anna Marais se eerste man het die plaas Druiwevallei in die distrik Agter Groenberg, naby Wellington, besit waar hy met 30 beeste en 50 skape geboer en ook koring gesaai het. Met haar huwelik met Jan Celliers het die plaas van 30 morg Jan se eiendom geword.

 

Hy het aanvanklik met die boerdery voort gegaan wat Gabriel Rossouw begin, maar het ook rog en gars gesaai. In 1735 het hy ook 5 000 wingerd-stokke aangeplant en in die daaropvolgende jare tot 20 lêers (11 547 liter) wyn  per jaar geproduseer.

 

Op 27 September 1743 is 'n bykomende stuk grond van 36 morg en 571 vk roede aan Druiwevallei toegeken. In 1744 het Anna Marais die plaas, Kykuit, in Daljosafat van 55 morg en 415 vk roede, van 'n ongetroude neef, Charles Marais, geërf wat ook Jan se eiendom geword het. Die getal wingerd-stokke wat hy besit het, het ná hierdie erflating van 5 000 tot 20 000 toegeneem.

 

Jan Cellier het die eienaar van albei dié plase tot en met sy dood ongeveer 1755 gebly. Net voor sy dood het hy, benewens die wingerdstokke, ook nog

12 perde, 30 beeste, 300 skape, asook 11 slawe en 1 slavin besit.

 

Kort na haar man se dood het Anna Druiwevallei aan Petrus Louw, die toekomstige skoonpa van twee van haar kleinseuns, verkoop. Sy het tot en met haar dood op 11 Januarie 1765 op Kykuit geboer, maar die saaioerdery in 1757 gestaak. Ná haar dood het haar oudste Celliers-seun, Jan (cl), die plaas Kykuit teen 'n bedrag van 6 000 gulden in Indiese valuta geërf en na sy dood, net sowat ʼn jaar later, het dit die eiendom van haar enigste oorlewende seun Josua Carel Cellier geword.

 

b3 : Pierreis op 10 November 1703 in die Paarl gedoop. Hy is voor 1712 oorlede, maar dit is onbekend presies wanneer hy oorlede is.

 

b4 : Elizabethis op 26 Julie 1705 in die Paarl gedoop en is saam met haar man op 17 September 1724 as lidmaat van die Paarl-gemeente aangeneem. Sy is op in ongeveer 1724 met die 29- jarige Pierre Malherbe getroud. Hul presiese huweliksdatum is onbekend, aangesien die Paarl se huweliksrekords tussen 1721 en 1724 verlore geraak het.

 

Pierre Malherbe was die enigste oorlewende seun van die Malherbe-stamouers en die Malherbe-naam is deur hom voortgedra. Al die Malherbes van Suid-Afrika het dus Cellier-bloed in hul are. Elizabeth is dan ook die stammoeder van Suid-Afrika se Malherbes.

 

Ses kinders - drie seuns en drie dogters - is uit dié huwelik gebore. Al die kinders is in die Paarl gedoop, die naaste gemeente aan Wellington waar hulle gewoon het.

 

Die plaas Hexherg in die distrik Wellington van 30 morg en 60 vk roede, wat sedert 1712 in Malherbe-besit was, is op 8 September 1734 opPierre Malherbe se naam oorgedra, maar volgens sy opgaafrolle het hy reeds voor 1734 op die plaas geboer. In 1726 het hy, volgens die opgaafrolle, 2 perde, 20 beeste, 50 skape en 2 varke besit.

 

In 1729 het hy 2 000 wingerstokke aangeplant en later nog meer sodat daar met sy dood tot 10 000 windgerstokke op die plaas was. Hy het ook koring, rog en gars gesaai.

 

Daar is aanvanklik min wyn op die plaas geproduseer, maar in latere jare het die produksie van wyn op die plaas tot so hoog as 20 lêers (11 547 liter) wyn per jaar gestyg.

 

Ná haar man se dood om en by 1756, het Elizabeth die boerdery tot en met haar dood in ongeveer 1778 voortgesit, maar het opgehou met saai. Met haar dood, het die getal wingerdstokke op die plaas reeds op 26 000 gestaan. By haar afsterwe het die plaas die eiendom van haar kleinseun, Gabriel Rossouw,geword.

 

b5 : Francina (Francoise) is op 30 Oktober 1706 in die Paarl gedoop en op 25 Junie 1724 as lidmaat aangeneem. Syhet op 12 April 1727 op 21-jarige ouderdom in die Paarl met die 23-jarige Pierre le Roux getrou. Hulle het tien kinders gehad - vyf seuns en vyf dogters - wat 'n tweeling dogter en seun ingesluit het.

 

Al die kinders is in die Paarl gedoop, wat in daardie stadium hul naaste gemeente aan Franschhoek was, waar hulle gewoon het.

 

In 1737 is twee van hul dogters jonk oorlede - Madgdalena en Susanna – wat onderskeidelik sowat 2 jaar en 1 jaar oud was.

 

Francina en haar man het op die plaas La Terra de Luc van 60 morgnet buite Franschhoek geboer wat hy van sy stiefouma, Jeanne Mille, geërf het. Op die plaas was sowat 12 000 wingerstokke wat jaarliks tot 25 lêers (14 434 liter) wyn opgelewer het.

 

Voorts het hulle ook 30 beeste en 100 skape aangehou, asook ʼn aantal perde. Hulle het ook koring en rog gesaai.

 

Ná haar man se dood op 24 Februarie 1767, het Francina met die boerdery tot in 1775 voortgegaan waarna haar seun, Abraham Josua le Roux, die plaas geërf het. Francina het waarskynlik op die plaas gebly  soos in haar testament bepaal is, totdat sy op 23 November 1782 op76-jarige ouderdom oorlede is.

 

b6 : Maria is in ongeveer 1708 gedoop. Die presiese datum van haar doop is onbekend, aangesien die Paarl se dooprekords tussen 1702 en 1714 onvolledig is. Sy is op 8 Maart 1726 as lidmaat van die Paarl-gemeente aangeneem.

 

Maria is die enigste van die stamvader se kinders wat nie met ʼn Hugenote-afstammeling getroud is nie. Sy is op 7 September 1732 in die Paarl met die Hollander, Johannes Hubertus, getroud wat van Amsterdam af gekom het as ʼn soldaat in diens van die Vereenigde Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (VOC). Hy is in 1735 oorlede en 'n paar maande later is sy vir die tweede keer in die Paarl in die huwelik op 8 Mei 1735 bevestig, dié keer met 'n

Duitser, Urbanus Sauermann. Hy het  van Muhlbeck in Duitsland in 1726 in die Kaap aangekom en was ook as soldat in diens van die VOC.  In 1734 het hy ʼn vryburger geword.

 

As vryburger het Urbanus as ʼn boukneg en later as saalmaker in die Paarl sy brood verdien. Geen kinders is uit Maria se eerste huwelik gebore nie en nadat sy reeds sewe jaar met Urbanus Sauermann getroud was, is hul enigste seun gebore en twee jaar later hul enigste dogter. Albei die kinders is in die Paarl gedoop.

 

Sauerman het in 1738 die kleinerige plasie, Pontuk van net 2 morg en 6 vk roede, in die Paarl van Jan Labuschagne gekoop. Hier het hy tot in 1768 gewoon toe hy dit aan Johann Christoph Dennert verkoop het.

 

Die enigste rekord van ʼn boerdery op dié klein stukkie grond is in die opgaafrolle van 1740 tot 1744 gevind toe Sauermann van 4 000 tot 6 000 wingerdstokke besit het waarvan hy 14 lêers (8 083 liter) wyn in 1744  geproduseer het. In dieselfde tydperk het hy ook 50 skape en 'n aantal perde besit, terwyl hy in 1743 sewe slawe, een slavin en drie slaweseuns in sy besit gehad het.

 

Maria Cellier is op 26 Februarie 1769 op 61-jarige ouderdom in die Paarl oorlede, terwyl haar tweede man dertien jaar later, ook in die Paarl, op 4 Augustus 1782 te sterwe gekom het.

 

b7 : Abraham is op 21 September 1709 in die Paarl gedoop. Hy het saam met sy twee ongetroude broers by sy ma op die plaas tot en met haar dood in ongeveer 1743 gebly en het die meeste van die vee op die plaas geërf, naamlik 2 perde, 26 beeste en 100 skape.

 

Op 6Desember 1744 is hy op 35-jarige ouderdom met die 18-jarige Anna Rossouw, getroud, die dogter van sy skoonsuster Anna Marais, die  vrou van sy broer, Jan (b2), uit haar eerste huwelik.

 

Abraham was ʼn rondtrekkende veeboer wat by tye 40 beeste en 300 skape besit het. Hy was ook die eerste Cellier wat die Drakenstein-omgewing verlaat en oor die berge getrek het – by tye tot sover  as die die distrik Swellendam.

 

In 1768 is hy aangestel as opsiener van 'n drif

van "Willem deplooij oor de nieuwe drift van

de Brede Rivier tot onder Jacob Hugot".

 

Altesaam twaalf kinders is uit sy huwelik met Anna

Rossouw gebore - drie seuns en nege dogters. Die oudste nege kinders is in die Paarl gedoop en die twee jongstes in Tulbagh. In die begin van 1772 het drie van sy dogters binne 'n tydperk van 15 dae gesterf, naamlik Maria (c3), Elisabeth (c7) en Judith Aletta (c12), wat onderskeidelik 21, 13 en 2 jaar oud was. Daar was by tye pokke-epidemies aan die Kaap en dit is moontlik dat hierdie drie kinders die slagoffers van so 'n epidemie was. Die 72-jarige Abraham Cellier is op 2 Desember 1781 in Tulbagh oorlede.

 

b8 : Pieter is op 16 Augustus 1711 in Stellenbosch

gedoop hoewel sy ouers in die Paarl gewoon het. Op 22 Oktober 1747 is hy as lidmaat van die Paarl-gemeente aangeneem.

 

Hy was maar 10 jaar oud toe sy pa oorlede is en 17 toe sy broer Jan (b2) op sy eie plaas begin boer het. Hy het sy hele lewe lank op Orleansgewoon en saam met sy ongetroude broers, Josue(bl) en Abraham (b7), by hul ma gebly tot en met haar dood in ongeveer 1743.

 

sy ma se dood het hy die plaas met sowat 10 000 wingerdstokke daarop geërf, terwyl Abraham die meeste van die vee geërf het. Pieter het ook 2 slawe, 1 perd, 10 beeste en 50 skape geërf. Waar syma nog koring en rog aangeplant het, het hy net in 1744 net koring gesaai en daarna heeltemaal opgehou met saai.

 

Hy het tot en met sy dood 20 beeste op die plaas aangehou en tot en met 1758 ʼn 100 skape. Hy het jaarliks tot 30 lêers (17 320 liter) wyn geproduseer en teen die einde van sy lewe het die getal wingerdstokke op Orleans tot 20 000 vermeerder. Hy het ook 7 slawe besit.

 

Pieter is in ongeveer 1792 op 81-jarige ouderdom

as vrygesel oorlede. Anna Minnaar, die weduwee van sy suster Magdalena (bll) se seun Josua le Roux, het die plaas in 1788 geërf, volgens Pieter se testament wat vier jaar voor sy se dood opgestel is. Hiervolgens moes Anna die plaas oor sewe jaar afbetaal teen 1 000 gulden in Indiese valuta per jaar. Sy het hierbenewens ook ʼn sesde deel van die jaarlikse inkomste uit wynverkope van die plaas geërf.

 

Anna Minnaar is in 1794 met vir die tweede keer getroud – dié keer met Jacobus Jeremias Coetzer, wat die plaas in 1801 aan Andries Francois du Toit verkoop het. Só het Orleans, die Cellier-familieplaas, na 89 jaar in vreemde hande beland.

 

b9 : Susanna is op 24 Septemeber 1713 in die Paarl gedoop en op 13 Maart 1729 word sy as lidmaat van hierdie gemeente aangeneem. Sy is nooit getroud nie en het op op 14 Julie 1733 op 20-jarige ouderdom in die Paarl gesterf.

 

b10 : Judith is op 1 Maart 1716 in die Paarl gedoop en op 14 Oktober 1732 as kerklidmaat van hierdie gemeente aangeneem. Sy was ongetroud en is op 24 Julie 1733 op 17-jarige leeftyd in die Paarl oorlede.

 

b l l : Magdalenais op 26 Desember 1717 in die Paarl gedoop en is op 14 Oktober 1732 as lidmaat van hierdie gemeente aangeneem. Sy is op 29 April 1736 op 19-jarige ouderdom in Stellenbosch getroud met die 30-jarige Pierre le Roux, ʼn neef en naamgenoot van haar suster Francina (b5), se man wat op ʼn nabygeleë plaas in Franschhoek, La Terra de Luc, boer.

 

Elf kinders is uit hierdie huwelik gebore - ses seuns en vyf dogters. Almal is in die Paarl gedoop, die naaste gemeente aan Franschhoek, in daardie stadium.

 

In 1736 het haar man die gevestigde wynplaas, La Mottein Franschhoek van 61 morg en 200 vk roede gekoop na die dood van die vorige eienaar, Pierre Jordaan. Op dié plaas was sowat 10 000 wynstokke waarvan jaarliks tot 8 lêers (4 619 liter) wyn geproduseer is. Hulle het ook 20 beeste en 'n paar perde aan gehou. In enkele jare het hulle ook koring gesaai.

 

Voorts het die egpaar ook een tot drie slawe en 'n slavin besit.

 

Ná haar man se afsterwe op 26 April 1771, het Magdalena op die plaas aangebly totdat sy dit in 1776 aan Johannes Jacobus Conterman verkkop het.

 

Magdalena is eers drie jaar later, 7 Februarie

1780, op 63-jarige leeftyd oorlede en dit is

onbekend wat van haar en haar vyf

ongetroude kinders geword het pas nadat sy

die plaas verkoop het. Dit is moontlik dat

hulle, asook haar seun Josua en Josua se vrou,

Anna Minnaar, na die oorspronklike familieplaas,

Orleans,verhuis het waar haar broer, Pieter (b8), nog geboer het.

 

Josua is in ongeveer 1787 oorlede en sy weduwee, Anna Minnaar, word die jaar daama die eienaar van

die Cellier-familieplaas, Orleans.

Bronne

Gepubliseeerde bronne

De Jongh, P.S. 1987. SarelCilliers. Pretoria: Perskor.

De Villiers, G.C. en C. Pama. 19x1. Geslagregisters van Ou

Kaapse Families. Kaapstad Balkema.

Le Roux, J.G. 1988. Hugenotebloed in ons are. Pretoria: RGK.

Le RouxW.G. en J.G. 1998. Orleans in die DrakensteinVallei.

Hugenote Bulletin 35, pp 30-32.

Ongepubliseerdehronne

Drakensteinse Heemkring, Paarl

Kaapse Argiefbewaarplek

P.E. Genealogiese navorsingsgroep

(Met dank aan Mariana Olivier en die Hugenotevereniging van Suid-Afrika - Verwerk uit Buletin 36 van 1999 bladsye 63-69)

Contactaţi Jan
Imprimaţi această pagină
Despre noi | Blogul nostru | Confidenţialitate | Termeni | Last names | Spuneţi unui prieten | Hartă site | Aviziere cu mesaje | Help
Română